Category: News
Date published: August 31, 2024

'n Gunstige ekosisteem vir pesbeheer

Bewarings biologiese beheer as volhoubare benadering tot ons hedendaagse landboupraktyke kan beskryf word as pesbeheer wat fokus om die natuurlike vyande van die peste te bevorder sodat hulle die pespopulasies kan beheer. Die natuurlike vyande (voordelige predatore of insekte) sluit lieweheersbesies, glasogies, predatoriese myte en parasitiese wespes in.

Die sleutel tot sukses in volhoubare biologiese beheer is om ‘n gunstige omgewing te skep wat die groei van die voordelige insekpopulasies ondersteun en die vestiging van die predatore in die omgewing te verseker. Deur die omgewingskwaliteit te bevorder en biodiversiteit uit te brei moedig ‘n mens die voordelige insekte aan om te floreer en effektief te kan bydra tot pesbeheer.

Die skep van gunstige omgewingstoestande vir natuurlike vyande.

Die maklikste en mees effektiewe manier om natuurlike vyande te ondersteun is om diverse plantspesies te vestig in en om gewasse, veral waar monokultuur, boomgewasse en intensiewe onkruidbeheer toegepas word. Die plante dien dan as alternatiewe voedselbron (by-voeding), trek-plant vir peste, skuilplek en gunstige broeiplek vir die natuurlike predatore. Deur die natuurlike predatoorpopulasies te verhoog, verbeter jy die pesbeheer vermoë deur die hele seisoen in jou gewas. Die by-voeding dien ook as voeding vir bye en sal bestuiwing ‘n indirekte voordeel inhou.

Meerjarige basilieplante word reeds algemeen aangeplant naby en langs avokado boorde om bye op die regte tye te lok en te vestig om bestuiwing te bevoordeel. Kleiner gewasse soos bloubessies en aarbeie het ook die volhoubare praktyk begin aanneem vir bestuiwing en ook om blaaspooitjie, witvlieg en spinmyt predatore wat vrygelaat is te help vestig en om as ‘n alternatiewe voedselbron te dien.

In ‘n studie deur Chen et al. (2020:6447) was die vlugtige organiese verbings wat vrygestel word deur heuningblommetjies (Lobularia maritima) tussen koolplante gunstig vir en het dit die parasitoïede (Cotesia vestalis) vir ruitrugmot (Plutella xylostella) aangetrek. Dit het ook die volwasse leeftyd verleng en ook die vrugbaarheid verhoog. Die heuningblommetjies het ook geen voordeel ingehou vir die ruitrugmot nie.

Gurr et al. (2006:43) het in kweekhuise gevind dat die eier parasitoid Trichogramma carverae se oorlewing en voorplanting hoër was in die teenwoordigheid van blommende lote van heuningblommetjies (L. maritima) in vergelyking met bruinmostert en koljander tussen wynstokke. Die studie het ook bewys dat heuningblommetjies groot voordele inhou vir die natuurlike vyand van die appelbladroller (Epiphyas postvittana) terwyl dit geen voordeel vir die pes as larwe of volwassene bied nie. Gurr et al. (2006:43) het ook verwys na waar heuningblommentjies in wingerde onder die stokke geplant word daar ‘n addisionele voordeel van onkruid onderdrukking is en dus minder meganiese en chemiese beheer van onkruid benodig word.

Heuningblommetjies het in ‘n proef deur Pumarino en Alomar (2012:62) reeds bewys dat dit die oorlewing en voorplanting van Orius majusculus bevoordeel, en die voordele was selfs groter toe peste as voedsel toegedien was. Die verskeidenheid van voedsel wat beskikbaar was vir die Orius sp. en gelei het na oorlewings en voorplantings voordele stem ooreen met patrone wat vir ander omnivoor spesies waargeneem word.

Koppert ervaring en voorbeelde van gebruik van heuningblommetjies (Lobularia sp.)

In Koppert Portugal en Spanje gebruik hulle reeds Lobularia saam met ‘n wye reeks ander plante om lae heinings en areas van plante te vestig met lang blomperiodes reg deur die seisoen. Koppert bied ‘n omvattende biodiversiteit-pakket wat vir natuurlike vyande skuiling en kos (nektar en stuifmeel) bied as alternatiewe gasheer en spesifiek teenwoordigheid en vestiging van pasatisiese wespes en predatore bevoordeel. Die pakket bestaan uit veelvuldige plantjies van 6 verskillende spesies en aanbevelings word dan gemaak afhangend van watter gewas en of dit tuinbou (in kweekhuise) of landbou (buite lande) is. Koppert Spanje het ook breedvoerige navorsing en toepassing in die veld gedoen waar Lobularia saam met Thripor (Orius sp.) en Entonem (Steinernema feltiae) gebruik is vir blaaspooitjie beheer in uie. Die Lobularia word 1-2 maande voor die uie gevestig waar dit dien as trekplant om die blaaspooitjie te lok en as by-voeding vir Thripor wat bydra tot die beheer van die blaaspooitjie. Dit word rondom en tussen die uie rye geplant. Die grondbehandeling met die Entonem, die Thripor toevoeging en die natuurlike vyande wat teenwoordig is omdat minder harde chemie begruik word vir blaaspooitjie beheer het alles bygedra tot effektiewe pesbeheer regdeur die seisoen.

In verskillende gewasse sal ander produkte soos Pretiobug (Trichogramma pretiosum) , Tripar C (Trichogrammatoidea cryptophlebiae) en ander natuurlike parasitiese wespes ook bevoordeel word deur heuningblommetjies (Aparicio, Riudavets, et al., 2021:114). Die teenwoordigheid van blomvlieë (‘hoverflies’), Aphidalia (Adalia bipunctata) en ander liewerheersbesies verhoog ook waar die benadering gevolg word. Aparicio, et al. (2021:114) staaf dat die toevoeging van plante wat gunstig is vir insekte die predatoor of natuurlike vyand getalle ook verhoog in gewasse en dus bydra tot pes beheer van veral blaaspooitjies en plantluise.

Voordele van heuningblommetjies as by-voeding

  • Verlaagde afhanklikheid van chemiese insekdoders en herstel van natuurlike insekbalans
  • Verlaagde meganiese en chemiese onkruid beheer
  • Dien as trekplant om peste te lok
  • Koste effektief en volhoubaar
  • Verhoogde biodiversiteit
  • Ekstra bestuiwingsvoordele

Koppert SA besef die behoefte en voordele van bewarings biologiese beheer. Met omvattende plaaslike en internasionale navorsing en ervaring werk ons saam met elke boer om volhoubare en effektiewe oplossings te implimenteer. Kontak jou naaste Koppert tegniese adviseur om heuningblommetjies (Lobularia sp.) deel van jou by-voeding te maak in opkomende seisoene!

Bronne

Begum, M., Gurr, M.G., Wratten, S.D., Hederberg, P.R. & Nicol, H.I. 2006. Using selective food plants to maximize biological control of vineyard pests. Journal of Applied Ecology, 43:547-554.

Chen, Y., Mao, J., Reynolds, O.L., Chen, W., He, W., You, M. & Gurr, G.M. 2020. Alyssum (Lobularia maritima) selectively attracts and enhances the performance of Cotesia vestalis, a parasitoid of Plutella xylostella. https://doi.org/10.1038/s41598-020-62021-y Date of use: 5 May 2024.

Lorena, P. & Alomar, O. 2012. The role of omnivory in the conservation of predators: Orius majusculus (Heteroptera: Anthocoridae) on sweet alyssum. Biological control. Barcelona: Elsevier. 62:24-28.

Aparicio, Y., Riudavets, J., Gabarra, R., Agustí, N., Rodríguez-Gasol, N., Alins, G., Blasco-Moreno, A. & Arnó, J. 2021. Can insectary plants enhance the presence of natural enemies of the green peach aphid (Hemiptera: Aphididae) in mediterranean peach orchards? Journal of Economic Entomology, 114(2):784–793.